|
English Version Here
STANDAARD VAN VOORTREFLIKHEID
ALGEMENE VOORKOMS EN TEMPERAMENT
- Die Nooitgedachter het ‘n goeie balans tussen voorkwart, middelstuk en agterkwart, waarvan elk ‘n derde deel vorm. ‘n Vierkantige stand van bene is kenmerkend, met ‘n sterk beenstruktuur.
- Hoë kwaliteit word deur ‘n adelike houding, nie-vlesige kop (fyn), soepel vel en blink haarkleed uitgebeeld. Die perd het ‘n wakker, intelligente houding met ‘n inherente nuuskierigheid wat ‘n aanvoeling vir en aangetrokkenheid tot die mens weerspieël
- Die hoogte van perde wissel van 138 cm. tot 163 cm.of 13.2 tot 16 hande. Die variasie kom voor omdat daar ‘n defnitiewe geneigdheid tot ponies sowel as perde in die ras is, asook weens seleksiemetodes onder wisselende ekologieë.
- Hoewe van goeie kwaliteit is so hard dat dit hoefbeslag selde nodig maak. Die gewrigte is inherent sterk. Die perde is in staat om ‘n volwasse ruiter daagliks oor lang afstande oor gebroke terrein te dra. Gemaklike gange soos stap, gangloop, draf, trippel en galop is kenmerkend. Dit maak deelname aan skoue, plesierritte. dressuurkompetisies en sportitems moontlik.
- 'n Vulpersentasie van 90% kan sonder byvoeding op die natuurlike veld gehandhaaf word. Die merries toon ‘n goeie uierontwikkeling en moedereienskappe. Pubertiet, soos hoogte, wissel volgens voedingsomstandighede.
- Die vel is donker gepigmenteer; Perde is enige kleur behalwe bont. Die perde se gewig wissel volgens grootte, dog die balans en kenmerke in bouvorm bly onveranderd.
KOP
- ‘n Droë nie-vlesige kop met ‘n sterk kakebeen en ‘n oop lugtoevoer na die keel is kenmerkend.
- In hingste is ‘n vorstelike en adelike wakker houding opsigtelik.
- Van voor gesien is die kop kort van kroon tot bek, met ‘n breë plat voorkop en kort, skerpgepunte ore wat reg geplaas en beweeglik is.
- In profiel moet die neusgedeelte reguit of effe konkaaf, die kaak diep en goed gewelf en die kakebeenlyn reguit wees.
- Die neusgate moet groot, goed omlyn en wyd geplaas wees en beweeglik wees.
- Die oogbanke moet nie te swaar en prominent wees nie.
- Die bo- en ondertande moet goed opmekaar pas.
- ‘n Droë nie-vlesige kop en ‘n soepel, fyn vel en duidelike beenknoppe en waarneembare bloedvate word verkies.
OË
- Die oë moet groot en oop en wyd geplaas wees.
- Die oogbanke moet nie te swaar en prominent wees nie.
- ‘n Intelligente, waarnemende blik in die oë word nagestreef.
- Wilde rollende oë met ‘n wit flikkering is nie kenmerkend van die ras nie. Vroulikheid in voorkoms en oë word by die merries aangetref.
NEK EN AANHEGTING
- Die nek moet matig lank en goed gespierd wees en moet netjies aansluit by die kop, bors en skouer.
- Die houding van die nek moet so wees dat die kop hoog gedra word sonder dat die perd die indruk skep dat hy in die lug opkyk.
- Die ideaal word verkry deur ‘n nek wat hoog uit die skouer loop.Maanhare moet dik wees.
KAMBENE EN SKOUERAANHEGTING
- 'n Diep skouer met ‘n lang bladbeen is uiters wenslik want dit verleen aan die ryperd ‘n lang tree.
- ’n Lyn vanaf die skouerknop tot die boonste rand van die kambeen behoort ‘n hoek van ongeveer 50 grade met die horison te vorm.
- Die skouer moet sterk gespierd wees, maar nie ‘n massiewe indruk skep nie en die bokante van die twee skouerblaaie (scapulae ) behoort styf teen die kambeen te pas om ‘n droë skerp skof te vorm.
- Die skof behoort so gevorm en na agter geplaas te wees dat die saal natuurlikerwys daaragter kan pas en nie na vore skuif tydens beweging sodat die perd deur die buikgord agter die elmboë geskaaf word nie.
SKOUER- EN KOOTHOEKE EN LENGTE
- Die skouer en die kote moet min of meer dieselfde helling vertoon en die kote moet matig lank wees.
SPRONG VAN RIBBES
- Die voorribbe moet lank wees ten einde ‘n diep borskas en ruimte vir die hart en longe te voorsien, maar nie te sterk gewelf wees by die ryperd nie.
- Die agterribbe moet goed gewelf en lank wees om penskapasiteit te verskaf.
- Die flank moet diep en vol wees en die spasie tussen die laaste rib en heup behoort in verhouding tot die res van die liggaam, kort gekoppel te wees ongeveer vier vingerbreedtes
RUGHOLTE NA KAMBENE TOT HEUPE
- Die toplyn van die middelstuk word gevorm deur die rug en die lende.
- Dit moet min of meer reguit na agter loop en glad by die kruis aansluit.
- Daar moet gediskrimineer word teen ‘n holrug, d.w.s. ‘n insinking agter die skof, asook teen kurperlende.
- Die toplyn moet relatief kort wees tot die onderlyn.
- Die ideaal is dat die perd ‘n kort gespierde lende moet vertoon, maar oor baie grond moet staan.
KRUIS –hoek lengte en breedte- EN BOUD
- Die kruis moet relatief lank wees vanaf die heupknop tot by die sitbeen gemeet.
- Van agter gesien moet dit breed tussen die draaibene wees, maar die heupe moet nie uitstaan nie en die kruis kan effe rond vertoon.
- Van die kant gesien behoort die kruis ‘n ligte helling na agter te hê, maar die stert moet hoog aansluit.
- ‘n Te plat kruis, van agter gesien, of ‘n te sterk hangkruis, van die kant gesien, is ongewens.
- Van agter gesien behoort die agterkwart, boude en bo-dye vol en gespierd te vertoon.
- Die skenkel moet sterk wees.
VOORARMLENGTE EN HAKPLASING (VAN BENE ) EN BENE SE STAND
- Die afstand van die elmboog na die knieë by die voorbene, moet langer wees as die van die knieë na die kootgewrig.
- Die voorbene moet wyd genoeg uitmekaar geplaas word om vrylik te kan beweeg, maar nie so wyd soos by trekperde nie.
- Die perde moet van voor gesien, vierkant op sy voorbene staan m.a.w. die voorbene moet loodreg en ewewydig staan.
- ‘n Loodlyn vanaf die skouerknop behoort deur die middel van die voorknieë, die pypbeen,die kootgewrig en die hoef te loop.Van die kant gesien moet die been vertikaal staan.‘n Loodlyn van die middel van die voorknieë en die middel van die kootgewrig moet die grond net agter die hoef raak.
- Die voorarm moet lank en gespierd wees, die voorknieë diep, breed en plat, die pypbeen kort, plat en droog met die spierpese duidelik sigbaar.
- Die kootgewrigte moet relatief groot, duidelik omlyn en nie vlesig wees nie.Die kote moet matig lank wees en min of meer dieselfde helling as die skouer vertoon.
- Daar moet teen oormatige kootbeharing gediskrimineer word.
- Die agterbene moet,van agter gesien, ewewydig en regaf staan met die punt van die spronggewrig, die agterkant van die kootgewrig, en die agterkant van die hoef (hiele) loodreg onder die sitbeen.
- Van die kant gesien, moet die stand van die agterbeen, so wees dat ‘n loodlyn vanaf die sitbene van net agter die spronggewrig, die pypbeen en die kootgewrig verbyhang.
- Die agterste kote kan meer regop staan as die voorste kote.
- Hakskeen moet breed en plat wees.
HOEWE EN BEENSTRUKTUUR
- Die voorkant van die hoef moet min of meer dieselfde helling as die koot hê. Van onder gesien is die agterhoewe meer ovaalvormig as die voorhoewe.
- Die hoef is geneig om hoog en smal te wees.Betreklik hoë hiele is ‘n voordeel vir beweging oor bergagtige terrein.
- Die hoefwande moet dig, hard en taai wees sonder barste of krake.
- Die hoefrand moet ‘n duidelike ronding toon en daar moet gewaak word teen saamgetrekte hiele.
- Die been moet ‘n skoon en sterk indruk laat.
- Die gewrigte van die agterbene sowel as die voorbene moet plat en sterk voorkom.
- Met die beoordeling/keuring van Nooitgedachtperde moet daar veral op die volgende ongeweste eienskappe en redes vir diskwalifikasie gelet word.
DISKWALIFIKASIES
- Ongewenste temperament: Perde wat duidelik menssku en temperamenteel is.
- Oorerflike gebreke en afwykings soos ‘n kort onderbek, holrug, sterk kurperlende, spronggewrigte (hakke) wat na buite draai, haashak (curb), swak bene gewrigte of hoewe.
- Kambeenhoogte van minder as 138 cm. of bo 163 cm.
- Bont, (piebald, skewbald) en albinoperde (geen pigment).
- Klophings.
- Papegaaibek
ONGEWENSTE EIENSKAPPE
- Bouvormfoute wat te vêr van die ideaal afwyk soos; ‘n growwe, effens vlesige kop; klein oë; swaar, dik nek; vlak, regop skouer; neiging tot holrug; matige kurperlende; kalf knieë; hoewe na binne of buite gedraai; koeihakke; sekelhakke; ‘n geringe uitbuig van die hakke van agter gesien; regop kote; klein kote.
- Geringe kleurafwykings soos ‘n te groot bles of besonder hoë wit bene.
- Perde wat nie vry beweeg nie.
|